Alpakkas – probleemdiere se moses
THEUNS BOTHA
Landbou Weekblad 2008
Verwant aan die kameel, is die Chileense alpakka hoogs intelligent. Met uitstekende sig kan hulle indringers kilometers ver sien. En as die gevaar dreig, huiwer hulle nie om te skop en te spoeg om hul veetroppe te beskerm nie. Dit is met dié uitsonderlike ‘‘veldwagters’’ wat ’n vrou in die Karoo groot welslae behaal.
As een van vier lede van die Suid-Amerikaanse kameelspesie, het die alpakka ‘n sterk kuddedrang. Die ramme en ooie tree baie beskermend teenoor mekaar en hul kleintjies op. Ook die veetroppe waarna hulle omsien, word beskerm. Met hul goeie sig kan hulle vreemde diere oor ver afstande sien. Hoewel hulle normaalweg sagte bromgeluide maak om met mekaar te kommunikeer, verander dit in ‘n deurdringende geblêr sodra gevaar dreig.
Alpakkas is gewoonweg nie aggressief teenoor mense en ander diere wat hulle nié as ‘n bedreiging beskou nie. Wanneer jakkalse en rooikatte egter by die veetroppe pla, sal hulle die ongediertes onderstebo stamp en met hul voorpote trap, vertel Sally Kingwill (39) van die plaas Country Road (Crickleywood Farm) in die distrik Graaff-Reinet. Sy boer reeds die afgelope ses jaar met alpakkas.
As enigste dogter van wyle mnr. Billy Kingwill van Coloniesplaats wat ‘n bekende Herefordteler van die distrik was, het sy ná haar studie in bedryfsielkunde en joernalistiek aan die Universiteit van Kaapstad en die Rhodes-universiteit op Grahamstad, vir vyf jaar die wêreld deurreis. Met haar terugkeer in 1996 het sy saam met haar pa op die 8 000 hektaar geboer tot met sy afsterwe in 2001. Haar hoofboerdery is Dohne-Merino’s en Herefordbeeste.
Omdat probleemdiere so onder die veetroppe op Coloniesplaats gemaai en talle boere in die omgewing na wildboerdery oorgeskakel het, het sy dadelik in die alpakka belang gestel toe sy tydens ‘n latere besoek aan Australië gehoor het dat hulle uitstaande wagters maak om veetroppe te beskerm.
Met haar terugkeer het Sally besluit om drie alpakka-ooie van Chili af in te voer. Omdat die verkope van alpakkas deur die Chileense regering beheer word, moes die transaksie deur in- en uitvoeragente gehanteer word. Die ooie is met ‘n ram, wat ‘n ander teler van Australië ingevoer het, gepaar. Haar beker het oorgeloop toe die eerste alpakkalammers wat aangekom het, drie ooitjies was.
‘n Paar jaar later was sy gelukkig om nege ramme, wat plaaslik in die mark gekom het, teen R4 000 stuk aan te skaf.
“Die verkopers het nie besef dat alpakkas ook as veewagters ingespan kan word nie en ek was gelukkig om hulle betreklik goedkoop in die hande te kry.”
Die alpakkas het goed op Country Road aangepas en het hul staal tussen die skaaptroppe gewys.
Hoewel die probleemdiere nie heeltemal gewyk het nie, was die lammeroes aansienlik hoër nadat hulle saam met die veetroppe begin loop het. Sy sê dit het haar destyds sowat R28 000 gekos om die alpakka-ooie in te voer. Vandag sal die prys waarskynlik in die omgewing van R35 500 beloop.
Benewens die alpakkas wat sy vir haarself teel, bedryf Sally ook ‘n “alpakka-hotel” waar sy ander telers se diere huisves en grootmaak. Sy het heelwat navorsing op die internet oor die bestuur van dié diere gedoen. Dit was egter die vriendskapsbande wat sy met die voorsitter van die Australiese alpakkavereniging gesmee het, wat haar die afgelope ses jaar baie gehelp het. “As ‘n mens met skape kan boer, is dit glad nie so moeilik om ook met alpakkas sukses te behaal nie, aangesien hulle ook grasvreters is.”
Hoewel Sally min bemarking gedoen het, was dit die besoek van twee Australiese Merinotelers aan Graaff-Reinet wat tydens ‘n boeredag opgetree en oor die welslae van die alpakkas as veewagters in hul land gepraat het, wat die navrae laat instroom het. Ook die Groenes se aanbeveling dat alpakkas eerder as afskrikmiddel aangewend word as om slagysters te stel en gifstof uit te sit om probleemdiere te beheer, het boere aan die praat gesit.
Om te verseker dat die alpakkalammers wat aankom genoeg melk kry, het sy Saanen-melkbokke aangeskaf. Hul biesmelk is uiters geskik vir die lammers van alpakka-ooie wat nie self genoeg melk het nie. Sally skeer haar alpakkas in die lente en koop ook by ander boere wol aan om genoeg voorraad op te bou met die oog op die verwerking daarvan. Tot 3 kg wol met ‘n lengte van tussen 80 mm en 150 mm kan jaarliks van dié diere geskeer word.
Alpakkas urineer en mis op bepaalde plekke in die veld en wei nie daar naby nie. Dit verminder dus die oordra van parasiete. Omdat honde alpakkas kan aanval, behoort spesiale voorsorg daarteen getref te word. Wanneer hulle nie in die veld benodig word nie, kan die alpakkas in ‘n klein kampie naby die werf gehou en lusern of ander droë materiaal gevoer word. Hulle is redelik bestand teen dieresiektes. Dieselfde gifplante wat vee sal siek of doodmaak, sal hulle egter ook aantas.
Daar is tans sowat 30 alpakkatelers in die land. Sally het die grootste teelplaas in die Oos-Kaap.
“Mense wat alpakkas wil teel, moet dit as ‘n langtermynbelegging sien. Met vroulike diere wat so duur is, is die risiko baie hoog.”
Benewens die diere wat sy verkoop, tree sy ook op as tussenganger vir telers wat teelmateriaal onderling wil uitruil. Hulle bring ook alpakka-ooie na haar plaas toe om gedek te word. ‘n Ooi kom op hitte sodra hulle by ‘n ram kom. Indien sy bevrug is en die ram twee weke later weer by haar gebring word, sal sy op hom spoeg. As dit nie gebeur nie, sal sy op die grond gaan lê om weer gedek te word.
Sally en haar lewensmaat, Marius, bedryf ook ‘n gastehuis op die plaas. As vroueboer was die aanpassing op die plaas maklik omdat sy lief is vir diere en op ‘n plaas grootgeword het. Sy meen nietemin sommige mans is nog té geneig om ‘n vroueboer in ‘n glaskas in te perk.
“Vir my is gelykwaardigheid nie om op elke terrein met mans mee te ding nie, maar net om ‘n gelyke kans gebied te word om myself as vroueboer te bewys,” benadruk Sally, wat reeds meer as R100 000 in die alpakka-boerdery belê het.